Tuesday, January 25, 2011

Alle Pelgrims keer weer Huis toe...

Wat ‘n week! Ons trek nou eers by Dinsdag, en ek is gereed vir die naweek! Daar is so baie om te leer, so baie om te verwerk, so baie om van sin te maak. Ek het net vandag weer besef mens sal nooit almal tevrede kan stel nie. Ons het almal sterk en swak punte, en ek dink iets wat mens ‘n beter mens maak is om daarvan bewus te wees. Tog is dit nie lekker om jou swak punte in die oë te kyk en daarmee kennis te maak nie. Om jou swak punte se hand te skud. Die week is een waar my swak punte telkens my blad kom skud het. Ek staan op ‘n kruispad in my lewe waar ek kan toelaat dat dit my onder kry. Waar ek hierdie kennis wat ek so lank vermy het net kan opsy skuif en ignoreer, of ek kan hom in die oë kyk en verwelkom, hom erken as deel van my en ‘n pad saam hom stap.

Dit klink vreemd om ‘n ding soos ‘n swak punt te verpersoonlik, maar dit is dikwels ook hoe ons met mense werk. Ons verwag van hulle om te verander, maar ons bou nooit ‘n verhouding met hulle nie. Ons neem die tyd om hulle te erken nie. Om hulle in te nooi en hulle beter te leer ken nie. Ons steek hulle weg vir almal, ons is skaam vir hulle. Toe luister ek weer vanaand  van Amanda Strydom se lied, Pelgrimslied . Dit is waarlik ‘n gedig. En dit beskryf so goed dat daar Iemand is wat weet. Iemand wat my swak punte ken voor ek met hulle kennis maak, maar my steeds toerus om hulle te bevriend. En hulle aan God opdra soos elke vriend(in) waaroor ek besorg is.

Vader God, U ken my naam, 
My binnegoed en buite staan. 
My grootpraat en klein verdriet. 
My vashou aan als wat verskiet. 
U ken my vrese en my hoop, 
die pad wat ek so kaalvoet loop. 
Die pad het U lankal berei, 
U maak die pad gelyk vir my. 

Alle pelgrims keer weer huis toe, 
elke swerwer kom weer tuis. 
Ek verdwaal steeds op die grootpad, 
soekend na U boarding huis. 

Moeder God, U ken my waan. 
My ego en my regop staan. 
Die drake waarteen ek bly veg. 
U wys my altyd weer die weg. 
U het my met U lig geseën, 
die lig strooi ek op iedereen. 
Net u weet hoe my toekoms lyk. 
Ek het niks... U maak my ryk. 

Alle pelgrims keer weer huis toe, 
elke swerwer kom weer tuis. 
Maar ek verdwaal steeds op die grootpad, 
soekend na U boarding huis.

Predikante is baie keer bang om te erken dat ons blinde leiers is. Ons het die opleiding en die grade. Maar ons bly fasiliteerders van ‘n aangaande gesprek wat kort-kort ‘n nuwe onderwerp op die tafel plaas. Dikwels is dit moeilik om jouself weer in hierdie gesprek te oriënteer. En dan soek ons opnuut, dan soek ons na daardie “Boarding Huis”. Partykeer word ons swakhede die krake waardeur die lig skyn. Ons is fasiliteerders, nie kenners. Ons is mede reisigers, en dikwels langs die pad loop ek my swak punt raak, en ek nooi hom om ‘n entjie saam te stap, want net dalk ken jy hom ook. Net miskien kan hy ons voorstel, en kan die gesprek voortgaan. 

Monday, January 3, 2011

Ingrid Jonker en Hermeneutiek

Ek het in hierdie week sommer weer my koffietafel boek oor Ingrid Jonker opgetel en begin lees deur van haar gedigte en versamelings van haar briewe. Daar is ook 'n groot deel geskiedenis daarin. Die werk is saamgestel deur Petrovna Metelerkamp. Dit het my weer laat besef hoe gaande ek oor haar werk en haar lewe is. En ek weet ek is nie die enigste een nie. Wat is die fassinasie met haar lewe en werk? Is dit blote verromantisering van iemand alledaags se lewe tot op so 'n punt dat dit massa histerie veroorsaak, of is daar iets meer?

Laasgenoemde kan ek nie antwoord nie, ek was nie daar nie. Ek weet net dat haar gedigte al soveel inspirasie vir my persoonlik gebied het. Daar is iets in haar werk waarmee ek kan identifiseer. Op die oog af lyk dit somber en donker, maar as mens die konteks van sekere gedigte ken (soos in die bogenoemde boek uitgelê word), dan kan mens iets besonders mooi daarin raak lees, partykeer selfs hoop! 'n Voorbeeld hiervan is haar gedig Die Kind  wat Oud President Nelson Mandela gebruik het om die eerste demokratiese Parlement te open op 24 Mei, nadat die ANC regering aan bewind gekom het in 1994.

Die kind wat dood geskiet is deur soldate by Nyanga - Ingrid Jonker
Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart
Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots
Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ‘n koeël deur sy kop

Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ‘n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ‘n reus geword het reis deur die hele wêreld

Sonder ‘n pas

Ek besef dat die misterie wat die lewe van Ingrid Jonker was, my eensydig maak. Daar is baie kontemporêre digters daarbuite wat ook besonderse talent het, maar ek het 'n sagte plekkie vir hierdie digteres. Daar is 'n gedig vir elke deel van my lewe waarmee ek kan identifiseer. Hierdie gedig wat in die dae van Apartheid geskryf is, bied vandag nog hoop. Dit loop oor met hartseer en woede en dra iets van wat ek dink die emosies van die tyd moes wees, maar die oomblik as hierdie kwaad gedig aangewend word by 'n geleentheid van versoening (of ten minste die begin daarvan), kry dit nuwe betekenis. Dan is dit nie meer net die woorde van 'n digteres wat die werklikheid meng met haar eie emosies en dit op papier sit nie, dit word die hoop dat die toekoms anders gaan lyk, dat daar vrede gaan kom, en ook dat ons nooit sal vergeet waar ons vandaan kom nie. 

En soos ek tot hierdie besef kom, begin ek ook sien hoe my eie hermeneutiek  funksioneer. Dit is in 'n groot mate hoe ek tot verstaan kom as ek met Bybel tekste werk. Elke keer bied 'n nuwe konteks nuwe moontlikhede aan 'n teks, maar die teks moet altyd binne sy oorspronklike konteks verstaan word, anders is dit maar 'n teks oor subjektiewe geskiedenis, of 'n blote gedig deur Ingrid Jonker van 'n tyd wat ‘n wrang smaak in ons monde los, geskryf deur 'n wit vrou wat deel is van die groep wat hierdie misdade gepleeg het. Maar dit kan ook nie stagneer en nie binne die huidige konteks ingebring word nie. Anders kry dit nie nuwe betekenis nie, anders is dit dood. Anders word hierdie gedig nie hierdie kragtige simbool van versoening en vrede en viering nie. So beweeg ons vorentoe. So kan die Bybel ook aangewend word in talle nuwe kontekste, dit dra iets van sy oorspronklike wêreld in hierdie wêreld in, en laat toe dat ons daarna kyk, dit bestudeer en daaruit leer. Leer hoe ons nog kan groei. Leer waar ons in die verlede foute gemaak het, en soos in die geval van die gedig leer dit ons hoe vêr ons gekom het, en leer dit ons van hoop. 

Ek hoop vir myself en my kolegas in hierdie nuwe jaar, 'n jaar waar ons nie roekeloos met Die Bybel sal omgaan nie. Waar hierdie konteks nie die enigste een is nie, waar die oorspronklike konteks ook nie die enigste een is nie, maar waar die twee saam kom en hoop gee. En ons leer dat God dinamies is, dat Hy nie ingeperk kan word nie en dat Hy voorsien!
Geseënde 2011!