Tuesday, January 25, 2011

Alle Pelgrims keer weer Huis toe...

Wat ‘n week! Ons trek nou eers by Dinsdag, en ek is gereed vir die naweek! Daar is so baie om te leer, so baie om te verwerk, so baie om van sin te maak. Ek het net vandag weer besef mens sal nooit almal tevrede kan stel nie. Ons het almal sterk en swak punte, en ek dink iets wat mens ‘n beter mens maak is om daarvan bewus te wees. Tog is dit nie lekker om jou swak punte in die oë te kyk en daarmee kennis te maak nie. Om jou swak punte se hand te skud. Die week is een waar my swak punte telkens my blad kom skud het. Ek staan op ‘n kruispad in my lewe waar ek kan toelaat dat dit my onder kry. Waar ek hierdie kennis wat ek so lank vermy het net kan opsy skuif en ignoreer, of ek kan hom in die oë kyk en verwelkom, hom erken as deel van my en ‘n pad saam hom stap.

Dit klink vreemd om ‘n ding soos ‘n swak punt te verpersoonlik, maar dit is dikwels ook hoe ons met mense werk. Ons verwag van hulle om te verander, maar ons bou nooit ‘n verhouding met hulle nie. Ons neem die tyd om hulle te erken nie. Om hulle in te nooi en hulle beter te leer ken nie. Ons steek hulle weg vir almal, ons is skaam vir hulle. Toe luister ek weer vanaand  van Amanda Strydom se lied, Pelgrimslied . Dit is waarlik ‘n gedig. En dit beskryf so goed dat daar Iemand is wat weet. Iemand wat my swak punte ken voor ek met hulle kennis maak, maar my steeds toerus om hulle te bevriend. En hulle aan God opdra soos elke vriend(in) waaroor ek besorg is.

Vader God, U ken my naam, 
My binnegoed en buite staan. 
My grootpraat en klein verdriet. 
My vashou aan als wat verskiet. 
U ken my vrese en my hoop, 
die pad wat ek so kaalvoet loop. 
Die pad het U lankal berei, 
U maak die pad gelyk vir my. 

Alle pelgrims keer weer huis toe, 
elke swerwer kom weer tuis. 
Ek verdwaal steeds op die grootpad, 
soekend na U boarding huis. 

Moeder God, U ken my waan. 
My ego en my regop staan. 
Die drake waarteen ek bly veg. 
U wys my altyd weer die weg. 
U het my met U lig geseën, 
die lig strooi ek op iedereen. 
Net u weet hoe my toekoms lyk. 
Ek het niks... U maak my ryk. 

Alle pelgrims keer weer huis toe, 
elke swerwer kom weer tuis. 
Maar ek verdwaal steeds op die grootpad, 
soekend na U boarding huis.

Predikante is baie keer bang om te erken dat ons blinde leiers is. Ons het die opleiding en die grade. Maar ons bly fasiliteerders van ‘n aangaande gesprek wat kort-kort ‘n nuwe onderwerp op die tafel plaas. Dikwels is dit moeilik om jouself weer in hierdie gesprek te oriënteer. En dan soek ons opnuut, dan soek ons na daardie “Boarding Huis”. Partykeer word ons swakhede die krake waardeur die lig skyn. Ons is fasiliteerders, nie kenners. Ons is mede reisigers, en dikwels langs die pad loop ek my swak punt raak, en ek nooi hom om ‘n entjie saam te stap, want net dalk ken jy hom ook. Net miskien kan hy ons voorstel, en kan die gesprek voortgaan. 

2 comments:

  1. Halo Eduard, ek is getroud met iemand in jou professie en al 17 jaar in ons gemeente. Het jy nou al 'n beroep gekry?

    ReplyDelete
  2. Hey Anna! Dankie vir jou belangstelling. Nee, ek wag nogsteeds. Maar die uiteinde van dit waarvoor ek wag begin al hoe onbelangriker lyk in die lig van die reis waarmee ek besig is om daar te kom. Waar is jule gemeente?

    ReplyDelete