Thursday, December 23, 2010

Wanneer Predikante Werk Kry

Die groot dag het aangebreek, ek het werk gekry. Terwyl ek op die strand gewandel het, het die oproep ingekom. Ek is nou 'n proponent in beheer van gesinsbediening in 'n voorstedelike gemeente. Gister het ek van my eerste goedjies begin intrek, met die hulp van my vorige kollega. Met 'n 1969 International het ons die klein vraggie, wat my lewe is, afgelewer. Dit was nie die grootste werk nie. Toe begin die uitpak. En mens pak mos nie lukraak uit nie. Doelgerig. Met missie. Sistematies. Daarom begin ek by een vertrek en werk my pad deur na die ander. Dit is baie herhalende werk. Haal bondel koerantpapier uit, vou oop. Haal glas, versiering of beker uit, en plaas op rak. Volgende. Perfekte werk om mens se gedagtes aan die gang te kry.

Skielik besef ek: Hierdie wonderlike pastorie is die eiendom  van 'n gemeente waarby my aanvanklike aansoek afgekeur is (Sien Wanneer Predikante Werk Soek). En ironies genoeg, vind ek myself, na my aanvanklike negatiwiteit, opgewonde. Opgewonde oor nuwe moontlikhede. Opgewonde oor die toekoms, en dankbaar vir die geleentheid. Die harde werklikheid van die menslike vermoë om blind te word vir dit wat mens voor bang is, as geleentheid hom/haar in die oë staar. Is ek besig om myself te verraai? Hoekom het hierdie vorige gevoelens soos mis voor die son verdwyn? Sien ek net wat ek wil sien?

Een van my kolegas in Warmbad het vir my kort na die aanbod per e-pos die volgende gese: "Sterkte met die besluit, en wat jy ook al besluit, maak dan dat dit die regte besluit is." Dit beteken dat gelukkig wees nie 'n passiewe gebeurtenis is nie, maar aktief. Dit beteken dat 'n groot deel van my geluk en vrede van myself gaan afhang. Dit beteken nie dat daar geen slegte goed met my gaan gebeur nie, maar ek kan altyd kies hoe ek daarop gaan reageer. Dit is die voordeel van 'n blog, jy kry geleentheid om jou ervarings, denke ens op 'n skerm voor jou te sien. Jy kry geleentheid om jou denke, uit die boks te haal, oop te vou, daarna te kyk en dit op sy plek te bêre.

My aanvanklike negatiwiteit? Ek het dit uitgehaal, die koerant oopgevou, 'n plek daarvoor uitgesoek, en dit sorgvuldig gebêre. Nou gaan ek aan na die volgende kamer. Nuwe kamer waar ek self kan kies wat ek hierbinne wil uitstal. Wat 'n voorreg.

Monday, December 6, 2010

Wanneer Predikante se skoene vol sand raak

Gisteraand toe ek die voorlaaste preek vir my Gemeentejaar lewer vir ‘n gehoor van 10 mense, laat ‘n dame in die gemeente my met die volgende gedagte: “Ek het ‘n jaar terug Warmbad toe getrek, en die plek se sand het nou eers in my skoene begin inkom!” So ‘n mooi gesegde, en toepaslik op dit wat vroeër die dag gebeur het.

Ek moes die oggenddiens vroeër die oggend ook lei. Dit was baie fyn beplan, want Universiteitsoord se koor was deel van die liturgie, en mooi musiek het bygedra tot die besondersheid van wat waarskynlik my laaste preek voor ‘n (semi) vol gemeente sou wees vir my Gemeentejaar. Tussen die aanvangslied, en die afkondigings vra die hoofouderling om ‘n spreekbeurt te kry. Die Jeugouderling kom toe ook aan die woord, en oorhandig aan my ‘n reuse geskenk pakkie, met wit lint toegedraai. Maar die woorde was soveel kosbaarder as die geskenk. Dit was uit die mond van iemand wat nie net my Jeug ouderling was nie, maar my vriend. My gedagtes dwaal:

Die een saam wie ek elke oggend muurbal gespeel het. Die muurbal was ‘n noodsaaklike bysaak, want die besprekings na die tyd rondom ‘n koeldrank was die bron van baie vertroosting, raad en inspirasie. Hier is daar voor die muurbalbaan gefilosofeer, bespreek, bemoedig en is daar dikwels ‘n skouer aangebied. Hy en sy vrou se braai area het die hoogste sekuriteits klaring in die land. Veilige plek om af te pak en te gesels. Hierdie gesin, het ook my surrogaat gesin geword. Maar dit was nie net hulle nie. Hulle is ‘n analogie vir almal in die gemeente. Daar is so baie mense wat ‘n plekkie vir my gemaak het. Talle sondag middag etes, die aandra van tuisgebakte beskuit, en die uitnodiging vir ‘n bier op die berg.
 
En ek besef hoekom daar skielik ‘n volstruiseier in my keel sit. Ek is lief vir hierdie mense. Maar is dit moontlik om so vinnig lief te word vir ‘n hele gemeente vol mense? So sing ons ‘n ekstra lied, sodat ek die volstruiseier kan afwurg. Later die dag gee my mentor predikant vir my die woorde wat lank gelede aan hom toevertrou is: “Jy kan nie ‘n gemeente bedien, as jy nie lief is vir hulle nie!” As dit ‘n aanduiding is van hoe goed mens ‘n gemeente bedien, het ek my goed van my taak gekwyt, want vir hierdie mense is ek lief.

Die laaste bietjie bittersoet besef waartoe ek kom, is dat my hart seer is. Seer omdat ek moet weggaan, omdat ek hier wil bly. Seer omdat ek vir hierdie mense lief geword het. En seer omdat die onwaarskynlike ding gebeur het: Ek het nie my skoene styf genoeg vasgemaak nie. Daar het soveel van hierdie bosveldsand ingekom, dat my voete te swaar geraak het om weg te sluip...

Wednesday, December 1, 2010

Wanneer Predikante werk soek...

So nou gaan ons seker vir maand nommer twee van werk soek. Ek dink ons as proponente stap uit die Universiteit uit met sterre in ons oë! Ons is bedwelm met die vooruitsigte wat vir ons belowe is, en opgewonde oor die sakke vol idees wat ons kan bydra tot die bediening. Maar dikwels word ons ontnugter. Dikwels is daai laaste stappie om die bediening te betree, menigte se grootste ontnugtering met die bediening. Maar is dit 'n ontnugtering, of is dit bloot 'n sorterings proses waardeur elkeen tot in sy regte plekkie geskud word? Dalk 'n naïewe gedagte...

Ek het in die afgelope twee maande die kortlys by drie plekke gehaal. Een van die gemeentes het besluit om nie te beroep nie. Hierdie is seker elke gemeente se reg, maar dit laat mens met die vraag waarvoor die hele oefening was? Was dit slegs om die waters te toets, of was die besluit gegrond op die aanname dat geen kandidaat die regte eienskappe besit om die pos te vul nie. Miskien is die eerste moontlikheid die sagste op 'n mens se selfbeeld. Hierdie was nie my grootste teleurstelling nie...

Die tweede plek waar ek die kortlys gehaal het, het die dame wat haar praktykjaar by hulle gedoen het aangestel. Hierdie is sekerlik een van die teleurstellings wat mens die maklikste verwerk. Die wete, dat 'n gemeente selde weg sal beweeg van die bekende, as hulle weet wat hulle het. Daarom gaan dit hier oor vertroue, en 'n verhouding wat reeds vasgelê is. Iets wat mens beswaarlik kan kritiseer. Hierdie was nie my grootste teleurstelling nie...

Die derde plek waar ek die kortlys gehaal het, is voorafgegaan met 'n interessante onderhoud. Die onderhoud het 'n ondersoek geloods na my persoonlike geloofslewe en geloof sekerheid. Die gebruiklike Tukkies dwaal -toets is ook geloods, met 'n wankelrige vraag oor maagde en grafte. Die finale onderhoud het 'n kort preek behels. My teks? Psalm 133, 'n bedevaartslied, wat Israel se verlange na eenheid met hulle vorige landgenote beklemtoon. 'n Sterk sosiologiese karakter. Hierdie kort preek is aangedui as een van die redes waarom ek nie die pos gekry het nie, omdat "die Christologie daarin nie sterk genoeg na vore kom nie". Om 'n Christologie uit 'n bedevaartslied te wurg en heeltyd jou teologiese posisie te moet verdedig is nie die situasie waaraan ek gedink het toe ek met my blink ogies uit die fakulteit uit gestap het nie. 'n "Liewe Jesus - Sousie" maak dat moeiliker opdragte makliker afgaan, maar dit is myns insiens oneerlik, en nie getrou aan dit waartoe God my geroep het nie.  Daarom, was selfs hierdie nie my grootste teleurstelling nie.

Toe ek egter vanoggend wakker word, het die reuk van koffie nie sy gewone bekoring ingehou nie. My kop het gejaag met duisende gedagtes. Wat as ek nie werk kry nie? Wat as ek op eindig by 'n plek waar ek heeltyd onder verdenking is? Wat as die bediening nie vir my is nie? Soos ek hierdie gedagtes oor my brein laat spoel, besef ek dat hierdie denkproses ses jaar se kweek van liefde vir die Teologie, vir die verantwoordelike hantering van die skrif, en my eie integriteit in twyfel trek. Maar die groter besef dat ek begin twyfel het in die feit dat hierdie werk 'n roeping is. Daarom is ek geroep, deur Wie? Daarom ondermyn hierdie gedagtes die stem van hierdie Roeper. Dit was my grootste teleurstelling!

Om te twyfel dat ek geroep is vir hierdie werk, is om die Roeper se stem te ondermyn. Daarom lyk die pad vorentoe nie hopeloos nie. Maar vir nou is die koffie nog effe bitter...