Wednesday, December 1, 2010

Wanneer Predikante werk soek...

So nou gaan ons seker vir maand nommer twee van werk soek. Ek dink ons as proponente stap uit die Universiteit uit met sterre in ons oë! Ons is bedwelm met die vooruitsigte wat vir ons belowe is, en opgewonde oor die sakke vol idees wat ons kan bydra tot die bediening. Maar dikwels word ons ontnugter. Dikwels is daai laaste stappie om die bediening te betree, menigte se grootste ontnugtering met die bediening. Maar is dit 'n ontnugtering, of is dit bloot 'n sorterings proses waardeur elkeen tot in sy regte plekkie geskud word? Dalk 'n naïewe gedagte...

Ek het in die afgelope twee maande die kortlys by drie plekke gehaal. Een van die gemeentes het besluit om nie te beroep nie. Hierdie is seker elke gemeente se reg, maar dit laat mens met die vraag waarvoor die hele oefening was? Was dit slegs om die waters te toets, of was die besluit gegrond op die aanname dat geen kandidaat die regte eienskappe besit om die pos te vul nie. Miskien is die eerste moontlikheid die sagste op 'n mens se selfbeeld. Hierdie was nie my grootste teleurstelling nie...

Die tweede plek waar ek die kortlys gehaal het, het die dame wat haar praktykjaar by hulle gedoen het aangestel. Hierdie is sekerlik een van die teleurstellings wat mens die maklikste verwerk. Die wete, dat 'n gemeente selde weg sal beweeg van die bekende, as hulle weet wat hulle het. Daarom gaan dit hier oor vertroue, en 'n verhouding wat reeds vasgelê is. Iets wat mens beswaarlik kan kritiseer. Hierdie was nie my grootste teleurstelling nie...

Die derde plek waar ek die kortlys gehaal het, is voorafgegaan met 'n interessante onderhoud. Die onderhoud het 'n ondersoek geloods na my persoonlike geloofslewe en geloof sekerheid. Die gebruiklike Tukkies dwaal -toets is ook geloods, met 'n wankelrige vraag oor maagde en grafte. Die finale onderhoud het 'n kort preek behels. My teks? Psalm 133, 'n bedevaartslied, wat Israel se verlange na eenheid met hulle vorige landgenote beklemtoon. 'n Sterk sosiologiese karakter. Hierdie kort preek is aangedui as een van die redes waarom ek nie die pos gekry het nie, omdat "die Christologie daarin nie sterk genoeg na vore kom nie". Om 'n Christologie uit 'n bedevaartslied te wurg en heeltyd jou teologiese posisie te moet verdedig is nie die situasie waaraan ek gedink het toe ek met my blink ogies uit die fakulteit uit gestap het nie. 'n "Liewe Jesus - Sousie" maak dat moeiliker opdragte makliker afgaan, maar dit is myns insiens oneerlik, en nie getrou aan dit waartoe God my geroep het nie.  Daarom, was selfs hierdie nie my grootste teleurstelling nie.

Toe ek egter vanoggend wakker word, het die reuk van koffie nie sy gewone bekoring ingehou nie. My kop het gejaag met duisende gedagtes. Wat as ek nie werk kry nie? Wat as ek op eindig by 'n plek waar ek heeltyd onder verdenking is? Wat as die bediening nie vir my is nie? Soos ek hierdie gedagtes oor my brein laat spoel, besef ek dat hierdie denkproses ses jaar se kweek van liefde vir die Teologie, vir die verantwoordelike hantering van die skrif, en my eie integriteit in twyfel trek. Maar die groter besef dat ek begin twyfel het in die feit dat hierdie werk 'n roeping is. Daarom is ek geroep, deur Wie? Daarom ondermyn hierdie gedagtes die stem van hierdie Roeper. Dit was my grootste teleurstelling!

Om te twyfel dat ek geroep is vir hierdie werk, is om die Roeper se stem te ondermyn. Daarom lyk die pad vorentoe nie hopeloos nie. Maar vir nou is die koffie nog effe bitter...

2 comments:

  1. Eduard, ek onthou baie goed die maande wat ek sonder werk (beroep) gesit het toe ek klaar geswot het by die Kweekskool in Stellenbosch. Ek was een van die wat 'onder verdenking' was - het later uitgevind die Kuratorium het 'per abuis' my naam uitgelaat wanneer gemeentes gevra het vir beroepbare proponente.

    Maar ek het uiteindelik my plek gekry. Nie eers in 'n NG Kerk nie, maar presies op die plek waar ek moes wees. Ek glo nou dat so 'donker nag' van wag 'n gesonde plek is om te wees. Ek wil amper se moenie eers die eerste gemeente aanvaar wat jou wil beroep nie, want jy moet ook vir hulle uitcheck: sal jy met integriteit daardie gemeente kan bedien, of sal jy vir jare 'n vals self moet uitleef?

    ReplyDelete
  2. Dankie @ mariusbrand, dit is 'n baie waar vraag wat jy my daar vra. En op die regte tyd ook, want intussen het my posissie verander... Ek sal binnekort daaroor skryf. Ek kry nog al my gedagtes agter mekaar, want ek mag dalk die pos aanvaar (Juis die een waaroor ek so onseker was, want hulle het my nou genader)

    Ek wonder of mens tog jouself kan wees, op 'n plek wat jy aanvanklik as bedreigend of vreemd ervaar, en dat God jou so kan gebruik? Dalk hang dit grootliks van jou persoonlikheid af?

    ReplyDelete