![](https://blogger.googleusercontent.com/img/b/R29vZ2xl/AVvXsEjSuWVHD1o2Bj-agP4kfQ5MlvO0CGs-2QtVfbqmYi2XDRFok5GFBFun81plS_D-idinyoX8JCzteyBaISZmEWf4DWmluCdodvB9923gZpW-z12fDJFg9DbEeE5xRBqJkPVtA_VtSbW4NvA/s400/Piled_Boxes_by_mynameisoliver.jpg)
Skielik besef ek: Hierdie wonderlike pastorie is die eiendom van 'n gemeente waarby my aanvanklike aansoek afgekeur is (Sien Wanneer Predikante Werk Soek). En ironies genoeg, vind ek myself, na my aanvanklike negatiwiteit, opgewonde. Opgewonde oor nuwe moontlikhede. Opgewonde oor die toekoms, en dankbaar vir die geleentheid. Die harde werklikheid van die menslike vermoë om blind te word vir dit wat mens voor bang is, as geleentheid hom/haar in die oë staar. Is ek besig om myself te verraai? Hoekom het hierdie vorige gevoelens soos mis voor die son verdwyn? Sien ek net wat ek wil sien?
Een van my kolegas in Warmbad het vir my kort na die aanbod per e-pos die volgende gese: "Sterkte met die besluit, en wat jy ook al besluit, maak dan dat dit die regte besluit is." Dit beteken dat gelukkig wees nie 'n passiewe gebeurtenis is nie, maar aktief. Dit beteken dat 'n groot deel van my geluk en vrede van myself gaan afhang. Dit beteken nie dat daar geen slegte goed met my gaan gebeur nie, maar ek kan altyd kies hoe ek daarop gaan reageer. Dit is die voordeel van 'n blog, jy kry geleentheid om jou ervarings, denke ens op 'n skerm voor jou te sien. Jy kry geleentheid om jou denke, uit die boks te haal, oop te vou, daarna te kyk en dit op sy plek te bêre.
My aanvanklike negatiwiteit? Ek het dit uitgehaal, die koerant oopgevou, 'n plek daarvoor uitgesoek, en dit sorgvuldig gebêre. Nou gaan ek aan na die volgende kamer. Nuwe kamer waar ek self kan kies wat ek hierbinne wil uitstal. Wat 'n voorreg.