Monday, March 14, 2011

Mure maak jou blind

Ek is maar ‘n studeerkamer mens. Ek hou daarvan om ‘n spasie te he wat eksklusief vir werk is. Dan voel ek meer produktief, meer ge-“centre” en sommer meer in beheer. Maar die kamer is die een wat my die meeste straf. Ek voel die minste aangetrokke tot die vertrek. Toe besef ek, maar ek sien nie die vertrek nie. My lessenaar staan teenaan die muur, so as ek opkyk, kyk ek in die muur voor my vas.

So skuif ek toe nou sommer vanaand my studeerkamer. Ek herorganiseer dit, sodat ek nie meer met my rug na die vertrek sit, besig met my eie ou dingetjies nie. Nie maar net meer besig om my werk klaar te kry totdat ek 'n beroep kry nie. (Nie dat dit doelbewus my ingesteldheid was nie - maar omdat ek nou eers daarvan bewus geword het). En 3 maande in, kom ek agter dat iets verander het, dat ek verander het. Daar is frustrasies, daar is probleme, meningsverskille... Maar daar is ook iets anders: Liefde. Die gemeente het die afgelope 40 dae 'n reeks gedoen oor liefde. Hoe lyk liefde, hoe lyk liefde nie. Hoe leef ek liefde, hoe leef ek liefde nie.

Daar is 'n gevoel van opgewondenheid in die lig. En mens sien hoe die eredienste en ander groep-byeenkomste mense toerus, om buite hulleself te leef. Om weg te beweeg van self gerigtheid. Om die nood in hierdie wêreld raak te sien, en die menslikheid in iemand raak te sien by wie jy so graag verby stap. Alles goed wat my vreeslik opgewonde maak! Ons raak inklusief, en ek is trots om deel te wees van wat in die gemeente aan die gebeur is. Nee, ek is opgewonde oor wat besig is om deur hierdie gemeente te gebeur.

So vind ek myself nie meer aan die kantlyn, rug na die "vertrek", besig met my eie dinge nie. Dit wat eens agter my rug afgespeel het, het ek nie raakgesien nie. Maar nou sit ek met my rug na die hoek, om alles in te neem, om getuie te wees tot wat hier gebeur, want:

"Dit bedek alles, glo alles, hoop alles verdra alles..."

Tuesday, January 25, 2011

Alle Pelgrims keer weer Huis toe...

Wat ‘n week! Ons trek nou eers by Dinsdag, en ek is gereed vir die naweek! Daar is so baie om te leer, so baie om te verwerk, so baie om van sin te maak. Ek het net vandag weer besef mens sal nooit almal tevrede kan stel nie. Ons het almal sterk en swak punte, en ek dink iets wat mens ‘n beter mens maak is om daarvan bewus te wees. Tog is dit nie lekker om jou swak punte in die oë te kyk en daarmee kennis te maak nie. Om jou swak punte se hand te skud. Die week is een waar my swak punte telkens my blad kom skud het. Ek staan op ‘n kruispad in my lewe waar ek kan toelaat dat dit my onder kry. Waar ek hierdie kennis wat ek so lank vermy het net kan opsy skuif en ignoreer, of ek kan hom in die oë kyk en verwelkom, hom erken as deel van my en ‘n pad saam hom stap.

Dit klink vreemd om ‘n ding soos ‘n swak punt te verpersoonlik, maar dit is dikwels ook hoe ons met mense werk. Ons verwag van hulle om te verander, maar ons bou nooit ‘n verhouding met hulle nie. Ons neem die tyd om hulle te erken nie. Om hulle in te nooi en hulle beter te leer ken nie. Ons steek hulle weg vir almal, ons is skaam vir hulle. Toe luister ek weer vanaand  van Amanda Strydom se lied, Pelgrimslied . Dit is waarlik ‘n gedig. En dit beskryf so goed dat daar Iemand is wat weet. Iemand wat my swak punte ken voor ek met hulle kennis maak, maar my steeds toerus om hulle te bevriend. En hulle aan God opdra soos elke vriend(in) waaroor ek besorg is.

Vader God, U ken my naam, 
My binnegoed en buite staan. 
My grootpraat en klein verdriet. 
My vashou aan als wat verskiet. 
U ken my vrese en my hoop, 
die pad wat ek so kaalvoet loop. 
Die pad het U lankal berei, 
U maak die pad gelyk vir my. 

Alle pelgrims keer weer huis toe, 
elke swerwer kom weer tuis. 
Ek verdwaal steeds op die grootpad, 
soekend na U boarding huis. 

Moeder God, U ken my waan. 
My ego en my regop staan. 
Die drake waarteen ek bly veg. 
U wys my altyd weer die weg. 
U het my met U lig geseën, 
die lig strooi ek op iedereen. 
Net u weet hoe my toekoms lyk. 
Ek het niks... U maak my ryk. 

Alle pelgrims keer weer huis toe, 
elke swerwer kom weer tuis. 
Maar ek verdwaal steeds op die grootpad, 
soekend na U boarding huis.

Predikante is baie keer bang om te erken dat ons blinde leiers is. Ons het die opleiding en die grade. Maar ons bly fasiliteerders van ‘n aangaande gesprek wat kort-kort ‘n nuwe onderwerp op die tafel plaas. Dikwels is dit moeilik om jouself weer in hierdie gesprek te oriënteer. En dan soek ons opnuut, dan soek ons na daardie “Boarding Huis”. Partykeer word ons swakhede die krake waardeur die lig skyn. Ons is fasiliteerders, nie kenners. Ons is mede reisigers, en dikwels langs die pad loop ek my swak punt raak, en ek nooi hom om ‘n entjie saam te stap, want net dalk ken jy hom ook. Net miskien kan hy ons voorstel, en kan die gesprek voortgaan. 

Monday, January 3, 2011

Ingrid Jonker en Hermeneutiek

Ek het in hierdie week sommer weer my koffietafel boek oor Ingrid Jonker opgetel en begin lees deur van haar gedigte en versamelings van haar briewe. Daar is ook 'n groot deel geskiedenis daarin. Die werk is saamgestel deur Petrovna Metelerkamp. Dit het my weer laat besef hoe gaande ek oor haar werk en haar lewe is. En ek weet ek is nie die enigste een nie. Wat is die fassinasie met haar lewe en werk? Is dit blote verromantisering van iemand alledaags se lewe tot op so 'n punt dat dit massa histerie veroorsaak, of is daar iets meer?

Laasgenoemde kan ek nie antwoord nie, ek was nie daar nie. Ek weet net dat haar gedigte al soveel inspirasie vir my persoonlik gebied het. Daar is iets in haar werk waarmee ek kan identifiseer. Op die oog af lyk dit somber en donker, maar as mens die konteks van sekere gedigte ken (soos in die bogenoemde boek uitgelê word), dan kan mens iets besonders mooi daarin raak lees, partykeer selfs hoop! 'n Voorbeeld hiervan is haar gedig Die Kind  wat Oud President Nelson Mandela gebruik het om die eerste demokratiese Parlement te open op 24 Mei, nadat die ANC regering aan bewind gekom het in 1994.

Die kind wat dood geskiet is deur soldate by Nyanga - Ingrid Jonker
Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart
Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots
Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ‘n koeël deur sy kop

Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ‘n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ‘n reus geword het reis deur die hele wêreld

Sonder ‘n pas

Ek besef dat die misterie wat die lewe van Ingrid Jonker was, my eensydig maak. Daar is baie kontemporêre digters daarbuite wat ook besonderse talent het, maar ek het 'n sagte plekkie vir hierdie digteres. Daar is 'n gedig vir elke deel van my lewe waarmee ek kan identifiseer. Hierdie gedig wat in die dae van Apartheid geskryf is, bied vandag nog hoop. Dit loop oor met hartseer en woede en dra iets van wat ek dink die emosies van die tyd moes wees, maar die oomblik as hierdie kwaad gedig aangewend word by 'n geleentheid van versoening (of ten minste die begin daarvan), kry dit nuwe betekenis. Dan is dit nie meer net die woorde van 'n digteres wat die werklikheid meng met haar eie emosies en dit op papier sit nie, dit word die hoop dat die toekoms anders gaan lyk, dat daar vrede gaan kom, en ook dat ons nooit sal vergeet waar ons vandaan kom nie. 

En soos ek tot hierdie besef kom, begin ek ook sien hoe my eie hermeneutiek  funksioneer. Dit is in 'n groot mate hoe ek tot verstaan kom as ek met Bybel tekste werk. Elke keer bied 'n nuwe konteks nuwe moontlikhede aan 'n teks, maar die teks moet altyd binne sy oorspronklike konteks verstaan word, anders is dit maar 'n teks oor subjektiewe geskiedenis, of 'n blote gedig deur Ingrid Jonker van 'n tyd wat ‘n wrang smaak in ons monde los, geskryf deur 'n wit vrou wat deel is van die groep wat hierdie misdade gepleeg het. Maar dit kan ook nie stagneer en nie binne die huidige konteks ingebring word nie. Anders kry dit nie nuwe betekenis nie, anders is dit dood. Anders word hierdie gedig nie hierdie kragtige simbool van versoening en vrede en viering nie. So beweeg ons vorentoe. So kan die Bybel ook aangewend word in talle nuwe kontekste, dit dra iets van sy oorspronklike wêreld in hierdie wêreld in, en laat toe dat ons daarna kyk, dit bestudeer en daaruit leer. Leer hoe ons nog kan groei. Leer waar ons in die verlede foute gemaak het, en soos in die geval van die gedig leer dit ons hoe vêr ons gekom het, en leer dit ons van hoop. 

Ek hoop vir myself en my kolegas in hierdie nuwe jaar, 'n jaar waar ons nie roekeloos met Die Bybel sal omgaan nie. Waar hierdie konteks nie die enigste een is nie, waar die oorspronklike konteks ook nie die enigste een is nie, maar waar die twee saam kom en hoop gee. En ons leer dat God dinamies is, dat Hy nie ingeperk kan word nie en dat Hy voorsien!
Geseënde 2011!

Thursday, December 23, 2010

Wanneer Predikante Werk Kry

Die groot dag het aangebreek, ek het werk gekry. Terwyl ek op die strand gewandel het, het die oproep ingekom. Ek is nou 'n proponent in beheer van gesinsbediening in 'n voorstedelike gemeente. Gister het ek van my eerste goedjies begin intrek, met die hulp van my vorige kollega. Met 'n 1969 International het ons die klein vraggie, wat my lewe is, afgelewer. Dit was nie die grootste werk nie. Toe begin die uitpak. En mens pak mos nie lukraak uit nie. Doelgerig. Met missie. Sistematies. Daarom begin ek by een vertrek en werk my pad deur na die ander. Dit is baie herhalende werk. Haal bondel koerantpapier uit, vou oop. Haal glas, versiering of beker uit, en plaas op rak. Volgende. Perfekte werk om mens se gedagtes aan die gang te kry.

Skielik besef ek: Hierdie wonderlike pastorie is die eiendom  van 'n gemeente waarby my aanvanklike aansoek afgekeur is (Sien Wanneer Predikante Werk Soek). En ironies genoeg, vind ek myself, na my aanvanklike negatiwiteit, opgewonde. Opgewonde oor nuwe moontlikhede. Opgewonde oor die toekoms, en dankbaar vir die geleentheid. Die harde werklikheid van die menslike vermoë om blind te word vir dit wat mens voor bang is, as geleentheid hom/haar in die oë staar. Is ek besig om myself te verraai? Hoekom het hierdie vorige gevoelens soos mis voor die son verdwyn? Sien ek net wat ek wil sien?

Een van my kolegas in Warmbad het vir my kort na die aanbod per e-pos die volgende gese: "Sterkte met die besluit, en wat jy ook al besluit, maak dan dat dit die regte besluit is." Dit beteken dat gelukkig wees nie 'n passiewe gebeurtenis is nie, maar aktief. Dit beteken dat 'n groot deel van my geluk en vrede van myself gaan afhang. Dit beteken nie dat daar geen slegte goed met my gaan gebeur nie, maar ek kan altyd kies hoe ek daarop gaan reageer. Dit is die voordeel van 'n blog, jy kry geleentheid om jou ervarings, denke ens op 'n skerm voor jou te sien. Jy kry geleentheid om jou denke, uit die boks te haal, oop te vou, daarna te kyk en dit op sy plek te bêre.

My aanvanklike negatiwiteit? Ek het dit uitgehaal, die koerant oopgevou, 'n plek daarvoor uitgesoek, en dit sorgvuldig gebêre. Nou gaan ek aan na die volgende kamer. Nuwe kamer waar ek self kan kies wat ek hierbinne wil uitstal. Wat 'n voorreg.

Monday, December 6, 2010

Wanneer Predikante se skoene vol sand raak

Gisteraand toe ek die voorlaaste preek vir my Gemeentejaar lewer vir ‘n gehoor van 10 mense, laat ‘n dame in die gemeente my met die volgende gedagte: “Ek het ‘n jaar terug Warmbad toe getrek, en die plek se sand het nou eers in my skoene begin inkom!” So ‘n mooi gesegde, en toepaslik op dit wat vroeër die dag gebeur het.

Ek moes die oggenddiens vroeër die oggend ook lei. Dit was baie fyn beplan, want Universiteitsoord se koor was deel van die liturgie, en mooi musiek het bygedra tot die besondersheid van wat waarskynlik my laaste preek voor ‘n (semi) vol gemeente sou wees vir my Gemeentejaar. Tussen die aanvangslied, en die afkondigings vra die hoofouderling om ‘n spreekbeurt te kry. Die Jeugouderling kom toe ook aan die woord, en oorhandig aan my ‘n reuse geskenk pakkie, met wit lint toegedraai. Maar die woorde was soveel kosbaarder as die geskenk. Dit was uit die mond van iemand wat nie net my Jeug ouderling was nie, maar my vriend. My gedagtes dwaal:

Die een saam wie ek elke oggend muurbal gespeel het. Die muurbal was ‘n noodsaaklike bysaak, want die besprekings na die tyd rondom ‘n koeldrank was die bron van baie vertroosting, raad en inspirasie. Hier is daar voor die muurbalbaan gefilosofeer, bespreek, bemoedig en is daar dikwels ‘n skouer aangebied. Hy en sy vrou se braai area het die hoogste sekuriteits klaring in die land. Veilige plek om af te pak en te gesels. Hierdie gesin, het ook my surrogaat gesin geword. Maar dit was nie net hulle nie. Hulle is ‘n analogie vir almal in die gemeente. Daar is so baie mense wat ‘n plekkie vir my gemaak het. Talle sondag middag etes, die aandra van tuisgebakte beskuit, en die uitnodiging vir ‘n bier op die berg.
 
En ek besef hoekom daar skielik ‘n volstruiseier in my keel sit. Ek is lief vir hierdie mense. Maar is dit moontlik om so vinnig lief te word vir ‘n hele gemeente vol mense? So sing ons ‘n ekstra lied, sodat ek die volstruiseier kan afwurg. Later die dag gee my mentor predikant vir my die woorde wat lank gelede aan hom toevertrou is: “Jy kan nie ‘n gemeente bedien, as jy nie lief is vir hulle nie!” As dit ‘n aanduiding is van hoe goed mens ‘n gemeente bedien, het ek my goed van my taak gekwyt, want vir hierdie mense is ek lief.

Die laaste bietjie bittersoet besef waartoe ek kom, is dat my hart seer is. Seer omdat ek moet weggaan, omdat ek hier wil bly. Seer omdat ek vir hierdie mense lief geword het. En seer omdat die onwaarskynlike ding gebeur het: Ek het nie my skoene styf genoeg vasgemaak nie. Daar het soveel van hierdie bosveldsand ingekom, dat my voete te swaar geraak het om weg te sluip...

Wednesday, December 1, 2010

Wanneer Predikante werk soek...

So nou gaan ons seker vir maand nommer twee van werk soek. Ek dink ons as proponente stap uit die Universiteit uit met sterre in ons oë! Ons is bedwelm met die vooruitsigte wat vir ons belowe is, en opgewonde oor die sakke vol idees wat ons kan bydra tot die bediening. Maar dikwels word ons ontnugter. Dikwels is daai laaste stappie om die bediening te betree, menigte se grootste ontnugtering met die bediening. Maar is dit 'n ontnugtering, of is dit bloot 'n sorterings proses waardeur elkeen tot in sy regte plekkie geskud word? Dalk 'n naïewe gedagte...

Ek het in die afgelope twee maande die kortlys by drie plekke gehaal. Een van die gemeentes het besluit om nie te beroep nie. Hierdie is seker elke gemeente se reg, maar dit laat mens met die vraag waarvoor die hele oefening was? Was dit slegs om die waters te toets, of was die besluit gegrond op die aanname dat geen kandidaat die regte eienskappe besit om die pos te vul nie. Miskien is die eerste moontlikheid die sagste op 'n mens se selfbeeld. Hierdie was nie my grootste teleurstelling nie...

Die tweede plek waar ek die kortlys gehaal het, het die dame wat haar praktykjaar by hulle gedoen het aangestel. Hierdie is sekerlik een van die teleurstellings wat mens die maklikste verwerk. Die wete, dat 'n gemeente selde weg sal beweeg van die bekende, as hulle weet wat hulle het. Daarom gaan dit hier oor vertroue, en 'n verhouding wat reeds vasgelê is. Iets wat mens beswaarlik kan kritiseer. Hierdie was nie my grootste teleurstelling nie...

Die derde plek waar ek die kortlys gehaal het, is voorafgegaan met 'n interessante onderhoud. Die onderhoud het 'n ondersoek geloods na my persoonlike geloofslewe en geloof sekerheid. Die gebruiklike Tukkies dwaal -toets is ook geloods, met 'n wankelrige vraag oor maagde en grafte. Die finale onderhoud het 'n kort preek behels. My teks? Psalm 133, 'n bedevaartslied, wat Israel se verlange na eenheid met hulle vorige landgenote beklemtoon. 'n Sterk sosiologiese karakter. Hierdie kort preek is aangedui as een van die redes waarom ek nie die pos gekry het nie, omdat "die Christologie daarin nie sterk genoeg na vore kom nie". Om 'n Christologie uit 'n bedevaartslied te wurg en heeltyd jou teologiese posisie te moet verdedig is nie die situasie waaraan ek gedink het toe ek met my blink ogies uit die fakulteit uit gestap het nie. 'n "Liewe Jesus - Sousie" maak dat moeiliker opdragte makliker afgaan, maar dit is myns insiens oneerlik, en nie getrou aan dit waartoe God my geroep het nie.  Daarom, was selfs hierdie nie my grootste teleurstelling nie.

Toe ek egter vanoggend wakker word, het die reuk van koffie nie sy gewone bekoring ingehou nie. My kop het gejaag met duisende gedagtes. Wat as ek nie werk kry nie? Wat as ek op eindig by 'n plek waar ek heeltyd onder verdenking is? Wat as die bediening nie vir my is nie? Soos ek hierdie gedagtes oor my brein laat spoel, besef ek dat hierdie denkproses ses jaar se kweek van liefde vir die Teologie, vir die verantwoordelike hantering van die skrif, en my eie integriteit in twyfel trek. Maar die groter besef dat ek begin twyfel het in die feit dat hierdie werk 'n roeping is. Daarom is ek geroep, deur Wie? Daarom ondermyn hierdie gedagtes die stem van hierdie Roeper. Dit was my grootste teleurstelling!

Om te twyfel dat ek geroep is vir hierdie werk, is om die Roeper se stem te ondermyn. Daarom lyk die pad vorentoe nie hopeloos nie. Maar vir nou is die koffie nog effe bitter...